Xhosavroue se waardes rakende die inisiasie van hulle seuns

Authors

  • M. A. Venter University of South Africa

Abstract

Gedurende die afgelope vier jaar het meer as 230 seuns as gevolg van komplikasies tydens besnydenis in die Oos-Kaap gesterf en sedert 2006 moes meer as 150 amputasie van die penis ondergaan (Sidimba, 2011:14; Pretoria News, 2011:2). Hierdie artikel doen verslag oor ? ondersoek na die faktore waaraan Xhosavroue probleme tydens inisiasie toeskryf, hulle rol as vroue tydens die inisiasie van hulle seuns en die waardes waarop hierdie oortuigings gegrond is. Volgens die data skryf Xhosavroue die redes vir die hoë sterftesyfer eerstens aan die swak toestande by inisiasieskole toe. Tot ? kleiner mate word geglo dat die voorvaders deur komplikasies of dood van die seuns, dié uitwys wat in elk geval nooit ware manne sou word nie. Hierdie rasionalisering het die kulturele siening na vore gebring dat geluk en ongeluk in die geestesryk of die spirituele werklikheid ontstaan en dat verantwoordelikheid daarom nie by die individu berus nie. Dit het die dimensie van hulpeloosheid en passiwiteit wat in die data gevind is, verduidelik. Die data het ook teenstrydige inligting na vore gebring. Dit blyk dat die vroue inisiasie enersyds as kinder mishandeling beskou, maar andersyds is hulle van mening dat tradisionele inisiasiepraktyke moet voortgaan soos dit is, al sou dit kinders in gevaar stel. Dit beteken dat die reëls van die gemeenskap so swaar weeg dat vroue dit nie sommer sal teëgaan nie, al sou hulle seuns in gevaar wees. Dié uiteenlopende sienings by dieselfde groep Xhosavroue het ? dinamiek in die diskoers tussen die rolle van mans en vroue in ? tradisioneel patriargale sisteem na vore gebring.

Published

2011-12-16

How to Cite

Venter, M. A. (2011). Xhosavroue se waardes rakende die inisiasie van hulle seuns. Tydskrif Vir Christelike Wetenskap | Journal for Christian Scholarship, 47(3 - 4), 25-47. Retrieved from https://pubs.ufs.ac.za/index.php/tcw/article/view/264

Issue

Section

Artikels | Articles